Hoe besonders is dit nie dat 'om te sing' of 'om na musiek te luister' altyd met lofprysing en aanbidding saamgaan nie?
Orals in die Psalms word daar gesê: “Sing tot eer van die Here; Sing lofgesange en prysliedere; Uit dankbaarheid dank ek Hom met my lied; Die Naam van die Here wil ek besing!“
Dit is asof sang en musiek 'n kernkomponent van geloof vorm - maak en waardeer musiek of jy kan sing of nie!
Ek dink dit is omdat musiek 'n mens op 'n emosionele vlak aanraak, jou help om te sê wat jy nie andersins in woorde kan omskryf nie. Vir eeue lank gebruik die mens musiek om sy 'ware self' aan ander te kommunikeer.
God wil hê ons moet hierdie metode van sang en musiek gebruik om ook ons dankbaarheid en eer aan Hom te bring. Hy sê as'tware “… wys My hoe dankbaar jy is … laat ek hoor hoe lief jy My het … Sing! Ten spyte van seer en bekommernis en onregverdigheid, sing tot My eer! SING! “
Ps 28:7 "My hart is vol vreugde, daarom dank ek Hom met my lied."
Die ou slagspreuk lui dat waarvan die hart vol is, loop die mond van oor:) Liedere, musiek en sang bring hierdie vreugde in Christus tot op 'n heeltemal nuwe vlak. Ek dink dis hoekom ek so lief is vir groepsang, want dan ervaar ek nie net die vreugde op my eie nie, ek deel dit met ander. Is dit nie wat Christus bedoel het toe Hy die kerk 'n Liggaam genoem het nie? Beweeg, eet, drink, werk en sing saam… SAAM.
Mag jou vol vreugdeshart in 2016 op baie plekke en maniere oorloop in 'n harmonie van klank tot Sy eer!